Monday, September 3, 2007

Versigtig nou!

Versigtig nou!28 08 2007
Wees versigtig waarvoor jy wens, want jou wens mag dalk net waar word…
Dit is met groeiende ongemak wat ek koerante, nuusberigte en die elektroniese media die laaste paar dae dophou. Vrydag se uitgawe van ANC Today het die spreekwoordelike cherry op die koek gesit. In ‘n skrywe getiteld “A Fundamental Revolutionary Lesson: The Enemy Manouevres But It Remains The Enemy: Part 1” maak die skrywer, wie se naam nie genoem word nie, ‘n paar klomp stellings wat kommerwekkend is, en my met die volgende indrukke gelaat het:
Die ANC beskou die HELE Blanke bevolking van Suid-Afrika as die vyand;
Die ANC glo die Blanke bevolking is gekant teen die demokratiese stelsel;
Die ANC glo die Blanke bevolking is besig met ‘n grootskaalse en georkestreerde poging om sy demokratiese bewind omver te werp;
Die ANC glo die 1994-uitkoms was grotendeels te danke aan sy (die ANC s’n) militêre vermoëns en optrede; en
Die ANC sal nie huiwer om sy nuutgevonde militêre vermoëns aan te wend om hierdie nuwe/ou bedreiging te onderdruk en te vernietig nie.
Sou jy hierdie hele uitgawe van ANC Today lees, sal jy sien dat daar deurgaans verwys word na die regerende party se bestaande militêre kapasiteit, die militêre steun waarop hulle reken hulle kan reken, sowel as hulle bereidwilligheid om die somtotaal daarvan aan te wend.
Ek is nie ‘n “war monger” nie - die blote gedagte aan oorlog steek my dwars in die krop - maar ek wil op my eie beskeie wyse die volgende uitlig:
Die gevaarlikste opponent in enige geveg is hy wat niks meer het om te verloor nie, en veg vir selfbehoud. Geen ideologie is sterker as die primêre strewe om selfbehoud nie, en die ANC het die Blanke bevolking al baie goed in daai hoek vasgeverf;
Die Weermag, soos hy tans daar uitsien, beskik nie oor die vermoë om ‘n konvensionele oorlog te voer nie, en ook nie ‘n guerilla-oorlog nie. Behalwe dat die Weermag fisies siek en oud is, is die gevegsoldate swak opgelei en ongedissiplineerd;
Die Weermag se toerusting is verouderd en glad nie diensbaar nie. Ek weet persoonlik van ‘n gemeganiseerde bataljon wat op ‘n sekere tydstip vanjaar net ses diensbare gevegsvoertuie gehad het. SES, uit ‘n totaal van meer as eenhonderd;
Die toerusting wat wel diensbaar is, het uiters beperkte bronne van opgeleide personeel wat dit kan beman. Die tegnologie is net té gevorderd vir die deursnee hedendaagse SA soldaat;
Die deursnee weerbare Blanke man in Suid-Afrika beskik oor die opleiding en motivering (sou dit nodig raak) om deel te word van ‘n hoogs georganiseerde en doeltreffende guerilla-poging. Hul geografiese verspreiding en konsentrasie sal die nodigheid om “op kommando te gaan”, soos tydens die Anglo-Boere-oorlog, verminder, wat guerilla-optrede sal bevorder sonder dat hy te ver van sy gesin af hoef te gaan, en hulle sodoende onbeskermd hoef te laat; en
Laaste maar nie die minste nie - die ANC oorskat sy militêre vermoëns liederlik. Hulle het glad nie ons huidige demokrasie met hulle militêre vernuf gewen nie. Inteendeel, die politieke skikking en hulle gepaardgaande oorwinning by die stembus verdoesel hulle militêre vernedering.
Die grootste probleem met die regerende party is dat hy hierdie onwrikbare geloof het dat net hy reg kan wees. Die res word gesien as vyande, en dus altyd verkeerd. Verder glo hulle dat hulle persepsie van ‘n demokrasie die enigste “regte” persepsie is, en verloor uit die oog dat ‘n demokrasie op sy sterkste is wanneer die regerende party nie toegelaat word om in ‘n gemaksone verval nie, maar voortdurend deur ‘n sterk opposisie op sy tone gehou word. Die ANC sien egter enige opposisie as vyande van die demokratiese bestel - ‘n bestel wat hy homself onregmatig as sy eie toe-eien.
Ek hoop van harte die stuk in ANC Today is net nog goedkoop propaganda om die massas se aandag weg te lok van hulle leiers se onvermoë om effektief te regeer. Die regerende party is teen hierdie tyd bekend vir die rookskerms wat hy skep om die aandag af te lei van die dinge wat werklik saak maak, en hopelik is hierdie net weer “business as usual”.
As dit nie is nie… God behoed ons.


http://www.gestorwesoldaat.iblog.co.za/2007/08/28/versigtig-nou/

No comments: