Thursday, September 13, 2007

SA se nuwe tydvak van verdrukking

SA se nuwe tydvak van verdrukking



Geskryf deur Vlad du Plessis
Woensdag, 12 September 2007
Dit is moontlik dat Suid Afrika tans ’n nuwe tydvak van politieke verdrukking betree. Reeds sedert die onderhandelde oorname het die ANC-regime geleidelik begin om die voorheen opgestelde prosesse en strukture van demokrasie te beskadig. Wydverspreide korrupsie, wanbestuur, nepotisme en verskeie ander vorme van partydige bedrywigheid en staatswanfunksionering het oor die afgelope 14 jaar ’n enorme tol geëis.
Sg. onpartydige waghonde en instellings soos die NV, die howe, OKASA, die Menseregtekommisie, die Taalregtekommissie en ander is bykans deurgaans deur die ANC gekaap. Daar is dus nie kans dat enige van hierdie strukture op die lang duur demokrasie sou bevorder nie.
Twee dinge het egter oor die afgelope enkele dae gewys dat ons waarskynlik ’n nuwe fase van demokratiese aftakeling binnegaan. Die een is die skorsing van mnr. Mike Waters verlede week oor sy ‚“ongemaklike" vrae rakende die onbekwame minister van Gesondheid (Me. Manto-Msimang) in die parlement. Laat ons net vir ’n oomblik by hierdie aangeleentheid stilstaan.
Ten eerste is die Speaker (me. Mbete) ’n lid van die ANC. Dit bring ons terug by die problematiek wat reeds vroeër in hierdie stuk aangeroer is, naamlik dat sg. “onpartydige” posisies deur ANC lede gevul word. Selfs ten beste, wannneer die opposisie betreklik min druk op die ANC plaas, sou dit onmoontlik vir me. Mbete wees om objektiwiteit te handhaaf. Ideaal moet ’n Speaker los staan van enige party. Dat partylojaliteit in die Afrika-konteks soveel te meer ’n rol speel en dat daar dan boonop ’n element van rassevooroordeel is, hoef mens nie eers te noem nie. Ten spyte daarvan dat haar inherente partydigheid haar rol as Speaker kon teenwerk, het dit tot ’n paar dae gelede geen ernstige probleme opgelewer nie. Die toets lê egter daarin as dinge moeilik raak.
Te midde van die huidige magstryd om die ANC-leierskap (en dus die presidentskap van die RSA) het die Nosizwe-Routledge-Manto-Msisimang debakel tot groot mate verpolitiseerd geraak. Die hele aangeleentheid het die onbevoegdheid van Mbeki se keuses rondom sake soos kabinetslede na die oppervlak gebring. Boonop is Nosizwe-Routledge oornag tot ’n soort ’nMessiaanse martelaar verpopuliseer. Sy is immers die een wat die “sterwende massas probeer red” het en toe met haar kabinetspos daarvoor moes “betaal”. Christus het die Romeine en Jode gehad, Ghandi het die Britse Ryk gehad, Dawid het vir Goliat gehad en Nosizwe-Routledge het Thabo en Manto. Nou ja, nie dat Nosizwe-Routledge werklik die leiding van ’n Christus, die opoffering van ’n Ghandi of die oorwinning van ’n Dawid beleef nie, maar in die NSA is ’n adjunk-minister van Gesondheid wat haar werk doen amper ’n heilige (veral as sy daarvoor bestraf word). Nietemin, dit is die skynbaar onskuldige weerlose teenoor die ooglopende magtige.
Teenoor die populêre protagonis, Nosizwe-Routledge, staan die antagonis, Manto-Msimang (Mbeki se keuse). Nosizwe-Routledge se nuutverworwe “Messiaanse” status gee vir haar selfs meer mag as wat sy ten tye van haar adjunk-ministerskap gehad het. Enige faksie binne die ANC met wie sy haarself sou assosieer sal onmiddelik tot die morele hoégrond verhef word, of so sou sulkes altans kon hoop. Daarenteen is Manto-Msisimang se morele status soos ’n stuk lood in dryfsand. Haar onbevoegdheid en skandes sal enige een wat aan haar gebind is die verdoemende dieptes intrek.
Dit kom al meer na vore dat die Mbeki-faksie ’n verbete stryd om oorwinning binne die ANC voer. Behalwe die Zuma-probleem (en dis ’n groot probleem) blyk daar nog verskeie ander faksies en magte aan die werk te wees.
Onder “normale” omstandighede sou Mike Waters se ongerieflike vraag dalk met ’n mate van irritasie verduur word. Normaalweg is die DA soos die kefferbrak op die stoep. Basies irriteer die brakkie almal binne die huis, maar tog kan die bure sien dat jy ook ’n “diereliefhebber” is. As daar egter onmin en rusie in die huis is, dan is ’n lastige brak net te veel, veral as die gekef gaan om ’n waarheid wat jou skade kan berokken. Wat normaal weg net ’n irritasie is, word skielik ’n bedreiging.
Die Nuwe Suid-Afrika was nog nooit ’n demokrasie nie. Dit was van die begin af ’n Bantoe-diktatuur oor ’n blanke minderheid. Daar was geen manier hoe die blankes d.m.v. die stembus die regime omver sou kon werp nie. Nogtans het die ANC se verdraagsaamheid teenoor die parlementêre stelsel en die minderhede se samewerking die wanindruk van demokrasie geskep. Eintlik was dit net een groot verneukspul en die een wat die meeste ingeboet het, was die blanke kieser. Valslik is hy onder die indruk gebring dat ’n stem vir die DA ’n verskil sal maak.
Die DA en die ander partytjies was uitlaatkleppe vir blanke frustrasies. Dit het voorkom dat blanke frustrasie omsit in woede wat die deksel sou afblaas. Dit het sodoende ’n disfunksionele en verdrukkende sisteem help legitimeer. Hierdie partye het dus inherent ’n aandeel aan die Afrikaner se onderdrukking. Hulle speel dieselfde gekoöpteerde rol as wat die Kleurling- en Indiërpartye in die ou Driekamerparlement gespeel het.
Onder die sg. “normale” omstandighede waarin ons oor die afgelope 14 jaar woon, is die opposisie se kritiek bloot afgemaak as wit rassisme. Hierdie effektiewe verweer is keer op keer aangevoer en sekerlik ook tot groot mate geglo, deur beide die ANC en hul ondersteuners. Die “rassisme”-aanklag was bykans elke keer effektief genoeg om opposisie-aanvalle te neutraliseer. In werklikheid was daar nooit ’n kans dat swart kiesers vir enige blanke party, selfs die mees liberale, sou stem nie. Nogtans, as daar die geringste vertwyfeling by die swart kieser sou ontstaan, sou die „wit rassisme”-aanklag meebring dat hy die opposisie geen oorweging skenk nie.
Maar wat as dit nie om die swart kieser gaan nie? Hoe gemaak as dit nie gaan oor keuse tussen wit of swart nie, maar wel oor ’n keuse tussen swart en swart? Ook, as die keuse nie deur die massa uitgevoer word nie maar wel deur partylede wat self beroepspoliteke ideale het? Sulke kaders soek immers ’n leier wat hul goedgesind is en wat polities sal oorleef. Gemeet aan sulke standaarde lyk Mbeki se saak sleg; immers moet hy ’n derde termyn bewerkstellig en boonop ’n swak baanrekord as president oorkom. Wanneer die ANC as verenigde front teenoor die wit opposisie staan, is dit maklik maar as die eenheid verbrokkel, is dit ’n ander saak. Dit gaan om die regerende (Mbeki-)faksie binne die ANC se politieke oorlewing. Dat die aanklag (‚rassisme”) wat normaalweg voldoende verweer sou wees, nie nou alleen die ding kan doen nie, dui vir mens presies hoe netelig en broos die regerende faksie se posisie is. Dit dui ook hoe intens onstabiel die ANC geword het.
Om weer terug te gaan na die sg. “normale omstandighede” (wat glad nie gesond is nie) sou nóg Mike Waters, nóg die DA enige skade kon berokken. Klaarblyklik is die tektoniese fout(e) wat tans deur die ANC loop so onstabiel dat geen bykomende “versteurings” geduld kan word nie. Eintlik hoef die ANC nooit die opposisie enigsens geduldig gewees het nie. Waar dit dus om die regerende faksie se politieke oorlewing gaan, is die las van ’n demokratiese masker een wat dalk net te veel is.
Die DA het altyd die idee van ’n kritiese opposie volgens die liberaal-demokratiese ideaal nagestreef. Die klem het daarop geval om die regering onbevoeg te bewys en die indiwidu daarvan te oortuig dat die DA ’n beter opsie is. Helen Zille het hierdie beginsel ’n trappie verder gevoer deur te onderneem om sulke goeie diens in die bestuur van Kaapstad te lewer dat dit swart kiesers sou oorreed om vir die DA te stem. Nie Helen Zille, Tony Leon, die DA, DP, PFP of hul voorganger het ooit die rassewerklikheid van SA verstaan nie. Helen Zille se verspotte idee het nie net haarself mislei nie maar ook die blanke kieser. Daar is drie realitiete wat hulle (die liberaliste) nie kán of wíl begryp nie.
Die ANC sal nooit die mag vrywillig afstaan nie. Dit het R.W. Johnson, wat ’n liberale kritikus van die vorige bewind was, ook onomwonde gestel.
In die Afrika-konteks ontvang die bevydingsbeweging vir dekades lank ongekende lojaliteit.
Oor die algemeen stem mense volgens rasverdelings. Ghandi se woorde geld: „enige volk verkies sy eie swak regering bo ’n ander volk se goeie regering.” Dit is die rassewerklikheid.
Met die verjaging van Waters en die inhegtenisname van Zille het die masker finaal afgekom. Uiteindelik het die ANC homself ontbloot vir wat dit werklik is: ’n Eenpartydiktator.
Dat Waters geskors is, het gedui daarop dat die ANC nie meer kritiek gaan duld nie. Met Zille se inhegtenisname kom ons by die tweede belangrike gebeurtenis van die afgelope dae. Streng volgens die wet is sy oor ’n onbenulligheid (sy het ’n tegniese aspek van die wet oortree tydens ’n anti-dwelmprotesoptog) in hegtenis geneem. Dit lyk meer asof die regime gewag het vir die geleentheid om haar agter tralies te kry, al was dit net vir ’n paar uur. En, dit is belangrik, want dit laat mens onwillkeurig wonder/besef dat die Waters-insident nie ’n geisoleerde gebeurtenis is nie en dat ons ten minste hier te make het met ’n nuwe styl in die hantering van die opposisie. My persoonlike gevoel is egter dat dit baie meer as ’n stylverskuiwing verteenwoordig en meer waarskynlik ’n geheel nuwe doktrine behels, nl. ’n verskuiwing van geïrriteerde verdraagsaamheid (met ’n aansienlike mate van verskuilde verdrukking), na ’n toestand van openlike onderdrukking.
Die boodskap aan Zille (en alle opposisielede) is baie duidelik: “Kritiek gaan nie meer geduld word nie.” Zille se inhegtenisname is niks minder as die intimidasie van die leier van die amptelike opposisie om hierdie punt tuis te bring nie. Soos wat Zille self oor die gebeurde in die polisiekantoor sê: „Die vertoon van mag was duidelik.”
Boodskap versend, boodskap ontvang…
Of Zille haar aan die boodskap gaan steur of nie is waarskynlik onbelangrik, aangesien Zille se rol in elk geval futiel is. Wat wel belangrik is, is hoe die politieke kultuur gaan ontwikkel met die pylvak na die ANC-presidentskap en veral daarna. In hierdie periode sal dit duidelik word of ons wel ’n tydvak van die absolute onderdrukking van opposisiepolitiek binnegaan. Myns insiens is daar drie moontlike scenario’s wat kan uitspeel. Meer daaroor volgende week.


http://www.praag.org/mambo/index.php?option=com_content&task=view&id=918&Itemid=37

No comments: