Saturday, January 5, 2008

Zuma: 'n geleentheid vir die Afrikaner?

Zuma: 'n geleentheid vir die Afrikaner? PDF Druk Epos
Geskryf deur Dan Roodt
Woensdag, 19 Desember 2007

ImageTeen dié tyd weet almal dat Jacob Zuma die ANC-leierskapsverkiesing loshande gewen het met 2 329 stemme teenoor Mbeki se 1 505. Die Zuma-faksie het ook skoonskip gemaak sover dit die res van die hoogste posisies in die party betref.

Dat Zuma daarin geslaag het om Mbeki te klop, is geen geringe prestasie nie. Immers geniet Mbeki die steun van die sakewêreld, die media, die koloniale mag Brittanje wat hom oor die afgelope jare konstant met Suid-Afrika bemoei, asook die oorblyfsels van die vorige Afrikaner-establishment in die vorm van Nasionale Pers, Marthinus van Schalkwyk en die Afrikanerbond. Een van die segsmanne van dié groepering, prof. Willie Esterhuyse, het ʼn sleutelrol onder Mbeki gespeel om hom van inligting te voorsien oor hoe Afrikaners beter verdeel en verdruk kon word.

Met Zuma se verkiesing betree die land ʼn nuwe, potensieel stormagtige fase. Terwyl Zuma oor die afgelope jaar of twee uitgereik het na Afrikaners, is sy oorwinning egter ook verseker deur die linkse faksie in die vorm van Cosatu, die ANC-jeugliga en die SAKP. Watter invloed die linkse faksie oor hom uitoefen, is in dié stadium nog onseker.

Vanuit die buiteland gaan daar groot druk op Zuma toegepas word om nie te veel aan Suid-Afrika se ekonomiese beleid te torring nie. As ons praat van die buiteland, dan is dit veral Groot Brittanje wat sal poog om soos altyd in die verlede ons binnelandse beleid te beïnvloed om Britse belange voorop te stel.

Die mynhuise word hoofsaaklik uit Londen beheer en dus sal Brittanje wil sien dat mynwinste en –produksie nie geraak word nie. Daarteenoor staan Brittanje, asook die vele Britse nie-regeringsorganisasies wat in die land bedrywig is, radikale grondhervorming voor sodat Afrikanerboere finaal van hul eiendom ontneem kan word. Soos mnr. Willie Lewies van die TLU dit al so dikwels gestel het, sal die grondlose Afrikaner in daardie geval ʼn “swerwersvolk” word.

Die Boer-Britstryd gaan dus onder Zuma se presidentskap voortduur en afhangend van wie se kant hy kies, sal Afrikaners dit moet ontgeld, aldan nie. Vanweë die feit dat Brittanje, asook die VSA, tot dusver die Mbeki-faksie geondersteun het, wil dit voorkom asof Afrikaners darem ʼn billike kans staan om invloed op ʼn Zumaregering uit te oefen. Sodoende kan ons boere, asook Afrikaanse onderwys en kultuur, van die gewisse ondergang gered word waarvoor hulle onder Mbeki bestem was.

Op Pietersburg was die ANC duidelik sterk verdeel tussen die Zuma- en Mbeki-faksies. Die vraag is nou: kan die ANC in die afsienbare toekoms in twee skeur? Myns insiens is dié moontlikheid glad nie uitgesluit nie. Die Mbeki-faksie het nog glad nie gaan lê ná die bloedneus by die partykongres nie. Hulle beheer nog steeds die staatsapparaat en mag dit gebruik om Zuma nog verder in hofsake vas te draai of hom selfs tronk toe te stuur. In so ʼn geval sal die Zuma-faksie waarskynlik tot revolusionêre optrede in die vorm van massa-aksie, betogings en selfs die bestorming van die Uniegebou oorgaan om die Mbeki-faksie uit die kussings te lig.

Soos gesê, geniet Mbeki steeds die steun van Brittanje en kan die Britte via hul magtige media en hul intelligensiediens allerlei planne bedink om Zuma uit die weg te ruim, letterlik of figuurlik.

Wat Afrikaners egter moet besef, is dat die volgende twee jaar aan ons geleenthede bied om te midde van die grootskaalse verdeeldheid in ANC-geledere, asook die Britte wat beheer begin verloor, ons belange te bevorder en moontlik selfs terug te keer na die politieke spel in Suid-Afrika.

Hoewel hy taamlik onvoorspelbaar is en te eniger tyd ʼn ommeswaai kan maak, is die populistiese Zuma ʼn interessante figuur in die SA politiek. Anders as Mandela of Mbeki, word hy nie soos ʼn marionet vanuit Engeland beheer nie en geniet hy steun op voetsoolvlak en veral onder Zoeloes. Hy is die spreekwoordelike swart Piet in die pak kaarte wat die spel deurmekaar kan krap.

Ons Afrikaners moet nou begin saamstaan en kyk of ons nie hier ʼn paar kastaiings uit die vuur kan krap nie. Reeds meer as ʼn jaar gelede het ʼn klein groepie van ons die versiendheid gehad om te sien dat daar ʼn magsverskuiwing aan die kom was en het daarom vroegtydig met Zuma gesprek begin voer. Hierdie gesprekke moet voortgaan en ons moet probeer om in ruil vir Afrikanersteun toegewings van Zuma te verkry, veral indien hy onder druk van die Mbeki-faksie, die Britte, asook Groot Besigheid in Suid-Afrika, sou kom.

Die logika van “my vyand se vyand is my vriend” wil hê dat Zuma die Afrikaner se vriend is. Dit mag ook wees dat die Afrikaner-Zoeloe-alliansie waaroor daar al jare lank in regse Afrikanerkringe gedroom word, met Zuma se hulp tot stand kan kom.

So iets sal egter slegs gebeur indien Afrikaners met verbeelding, intelligensie en vasberadenheid begin optree.

1 comment:

Anonymous said...

Hello. This post is likeable, and your blog is very interesting, congratulations :-). I will add in my blogroll =). If possible gives a last there on my site, it is about the CresceNet, I hope you enjoy. The address is http://www.provedorcrescenet.com . A hug.