Thursday, June 21, 2007

Nóg stakingswolke pak saam

Nóg stakingswolke pak saam

20/06/2007 21:18 -

(SA) Jan de Lange Loononderhandelinge op twee van die land se grootste bedingingsforums het gister onheilspellend nader aan enorme stakings beweeg.In die loononderhandelinge tussen die Kamer van Mynwese en vakbonde oor lone in goudmyne is ’n dispuut verklaar in die eerste onderhandelingsronde.En in die staal- en ingenieursbedryf is ’n stakingsertifikaat aan die vakbonde uitgereik, wat beteken dat die 270 000 werkers in dié sektor binne 48 uur kan begin staak.Die Kamer van Mynwese, wat die land se drie groot goudprodusente, Gold Fields, AngloGold Ashanti en Harmony verteenwoordig, het gister geen teenaanbod gedoen aan die drie vakbonde wat sowat 140 000 werkers in die goudmyne verteenwoordig nie.Pleks van ’n teenaanbod op ’n stel van 61 eise, het die myngroepe die vakbondverteenwoordigers gevra om hul eise te “prioritiseer” sodat ’n ordentlike teenaanbod geformuleer kan word.Dit het die vakbonde egter omgekrap en in ’n koukusvergadering het twee van die vakbonde, die National Union of Mineworkers (NUM) en Solidariteit, besluit om dadelik ’n dispuut te verklaar.“Die kamer het met leë hande onderhandelingstafel toe gekom. Ons het weke gelede al ons mandate gekry en eise skriftelik aan die kamer oorgedra. Dit is jammer dat die kamer só ’n houding aanneem,” het mnr. Frans Baleni, hoofsekretaris van die NUM, gesê.Dr. Elize Strydom, die kamer se hoofonderhandelaar, sê die vakbonde het voortydig in ’n dispuut ingestorm. “Ons is verras en teleurgesteld, veral omdat die partye nie kans gehad het om mekaar behoorlik te betrek nie.”Volgens Strydom word die bedingingsforum vanjaar deur bepaalde uitdagings in die gesig gestaar. “Ons moet ’n balans vind tussen werknemerverwagtinge en die langtermyn-lewensvatbaarheid van die bedryf,” het sy gesê.Die vakbonde eis verhogings van 15% asook ’n rits ander voordele, waaronder hoër behuisingstoelaes en begrafnisversekering van R30 000.Die bedingingsraad vir die staal- en ingenieursbedryf het ’n stakingsertifikaat aan die vakbonde uitgereik omdat ’n klein taakgroep nie in staat was om enige vordering in die loononderhandelinge te maak nie. Die werkgewers het verhogings van tussen 7% en 7,5% aangebied, maar vakbonde eis verhogings van tussen 14% en 15%.Die vakbonde het verskeie ander voordele geëis waaraan die werkgewers sê hulle nie kan voldoen nie, het mnr. Brian Angus, uitvoerende direkteur van Seifsa, die werkgewersorganisasie, gesê.Hulle eis dat arbeidsmakelaars aan dieselfde diensvoorwaardes as gewone werkgewers onderworpe moet wees, maar volgens Angus sal werkgewers nooit daartoe instem nie. “Ons kan nie die plooibaarheid van makelaars prysgee nie,” sê hy.Die vakbonde eis ook seggenskap oor die saamstel van werknemer-aandeleskemas.Mnr. Thulani Nthiyane, hoofonderhandelaar van Numsa, sê egter ’n staking sal oor ’n raps meer as ’n week uitgeroep word indien daar geen vordering is nie.

No comments: