Monday, April 28, 2008

Die Mighty Men-saamtrek

Dis die begin van die einde van die stryd

Now its the End game :


26/04/2008 16:42 - (SA)
Hanlie Retief gesels met Angus Buchan


Druk artikel
E-pos storie aan 'n vriend
Click here!

Dis in Angus Buchan se stem, in sy eenvoudige, skoon woorde.

Dis ’n warmte wat jy vóél, 2 000 km ver, oor die telefoon.

“Jy bel my op die regte tyd,” sê Angus Buchan. “My hart loop oor vandag. Ek is emosioneel, ek is ’n bietjie oorstelp, want ’n wonderwerk het hier op my plaas gebeur. ’n Herlewing . . .”

Dis Maandagoggend. Die Mighty Men-saamtrek is skaars ure verby. Op sy plaas lê die spore van 60 000 mans nog in die stof.

Die hele Buchan-familie, skoonseuns de lot, het hul vingers stomp gewerk vir die konferensie. Die oudste seun het die sang (“met baie Afrikaanse gospelliedjies”) gelei, die ander het gehelp op die reuse-kampterrein. “Ons het toilette reg gehad, warm storte, drie gratis etes per dag,” sê hy en jy hoor: ons kon voorsien. Ons kon.

Sy vrou, Jill, is besig om in te pak vir ’n asemskep aan die kus ná al die organisasie en emosie van die naweek. “Jill sal my lós as ons nie ’n bietjie alleen wegbreek nie,” skerts hy.

Haar man behoort aan God. Haar man behoort aan almal.

Hy sukkel só om ’n paar minute afgeknyp te kry vir ons onderhoud dat hy naderhand maar koers kies na die plaas se kapel toe, “waar ons in vrede kan gesels”, lag hy in die drafstap.

“So ja, hier’s ek. Nou’s dit net ek en jy en God. Kan ons eers saambid voor die onderhoud begin?”

In ’n paar woorde vra hy seën op die onderhoud.

En dan vertél hy. Van daardie oseaan van gesigte, alkante toe, tot ver in die donkerte, met nie één man wat geroer het nie, aangegryp, wagtend op die boodskap, vir wat God gaan sê.

“Gód,” beklemtoon hy, “nie Angus nie,” net sodat jy nie dalk ’n wanindruk kry van dié nederige boer nie.

Dit eggo in die honderde e-pos-briewe en SMS’e wat Rapport oorstroom het: “Dit was die Here se naweek,” skryf die mense, “Oom Angus” was net hul gewaardeerde tussenganger.

“As jy gesien het hoe 60 000 mans op hul knieë hul sonde voor God bely, wéét jy dis net God wat dit kon doen.

“Sou enige van die groot Christelike leiers dit kon laat gebeur het? Nee. En ek die heel minste. Ek is nie ’n Ray Mc- Cauley of ’n Billy Graham nie. Ek is net ’n dienskneg van die Here.”

Een van die punte van kritiek op die naweek is dat dit weinig meer was as bang, desperate mense wat nie meer herwaarts of derwaarts weet nie wat in ’n geestelike kudde saamgetrek het.

“Beslis nie,” sê Angus en bly ’n sekonde stil. “Hierdie is God se tyd. ’n Tyd vir die Here om te werk. Wat hier gebeur het, is groot, gróót.

“Ek het mans hier gesien wat nie met ’n lang paal aan ’n kerk sou raak nie. Hulle soek reguit antwoorde, maar hulle kry dit nie by die regering nie. En hulle soek nie teologie nie. Hulle soek Jesus.

“Ek dink hulle het gekom, want hulle’s honger en hulle soek die Waarheid. Daar’s vir hulle leuens vertel, of nie die volle waarheid nie. Die waarheid is die Woord van God.”

’n Man het vir hom gesê hy’t nie net met 60 000 mans gepraat nie, maar ook met al die gesinne wat hulle verteenwoordig, die maatskappye, skole en sportklubs, fabrieke, myne, plase . . .

“Nou word dit amper ’n pandemie deur die land. Daar gáán nie ’n herlewing wees nie, dit ís ’n herlewing, my girl!”

Hoekom dink hy het God hóm, Angus Buchan, gekies?

“Ek het daardie vraag al baie gevra. ‘Stru, ek weet nie . . . Van my hegte vriende sê dis omdat ek ’n hart vir mense het.”

Daar’s ’n krakie in sy stem en jy kan hoor hoe vroetel hy met sy sakdoek.

“Ek is nie ’n baie slim man nie. Maar ek ken God. Ek loop al dertig jaar die pad met Hom saam. Al wat ek dié naweek gedoen het, was om vir die mans te vertel wat God vir my gedoen het. En om hulle aan te moedig dat Jesus dit ook vir hulle kan doen.

“Ek’s ’n koninkryk-man, nie ’n em-pire-bouer nie. Ek rokkel nie mense van hul kerke af nie, maar motiveer hulle om in te skakel by hul kerkgemeenskappe.” Hy’t nie sy eie kerk nie, was nooit Bybelkollege toe nie, maar is deur die skool van die lewe.

Hy bly ’n oomblik stil. Bedink weer my vraag.

“Almal van ons het iewers ’n droom om iets te word, iets te beteken. My droom is om mense se lewe aan te raak. Dis nou ver oortref.”

Geloof ís Angus Buchan se lewe. Van 18 Februarie 1979, toe hy in ’n Greytownse kerkie opgestaan het vir God, deur sy lewe van misoeste en geil lande as aartappelboer, deur nege boeke, waarvan die treffer Faith Like Potatoes ’n fliek geword het, loop geloof . . . “tot by hierdie tent hier buite, die grootste ter wêreld. Miljoene rande het die afgelope twee maande deur my hande gegaan, in by die een hand, uit by die ander. Ons het nie begroot nie, God het betaal.”

Nie een keer het Angus Buchan van die verhoog af geld gevra nie. Geen mandjies is rondgestuur nie.

As jy glo, sê hy eenvoudig, sal God voorsien.

“Die naweek was ’n pluimpie vir julle Afrikaanssprekendes, julle was daar in jul menigte – 90% was Afrikaans. Wónderlik. Ek’s ’n Ingelsman. Ek’t vir God gevra hoekom gebruik Hy my en nie ’n Afrikaanse dominee nie . . .”

Hy’t dertig jaar gelede in Greytown aangekom en met níks ’n lewe begin. “Dis hoekom ek Suid-Afrika so liefhet. Dié land het vir my ’n lewe gegee.”

Onlangs in Australië, was hy tussen oud-Suid-Afrikaners wat huis toe verlang. “Mense moet besef hulle vat hul eie probleme saam, waar hulle ook al gaan. Voordat jy loop, stryk dit éérs uit. En onthou, elke land het maar sy probleme.

“As God vir jou sê jy moet gaan, dan moet jy. Maar as God dit nié sê nie, moet jy bly.”

Hoe gaan jy weet?

“Deur stiltetyd. Nie net ’n paar minute nie, die eerste uur van jou dag. As jy daarmee aanhou, sal jy hoor wat God vir jou sê.”

Hoekom Mighty Men – dis net ’n paar letters weg van Macho Men? En hoekom was vroue nie welkom nie?

Hy skater van die lag.

“Ek hoor sommer jy’s ’n regte Afrikaanse meisie wat reguit vrae vra! Ek’s ’n man vir reguit antwoorde.

“Die Bybel praat van Dawid se ‘mighty men who achieved great feats for God’. In ons samelewing word manlikheid afgebreek, mans verloor hul selfbeeld en selfvertroue, hulle voel ontoereikend. Hulle sleep ’n klomp pyn met hulle saam, uit die kinderjare, diensplig, regstellende aksie, afgeneemde plase . . .

“Ek het gevoel God wou hê ons moet die naweek gebruik om mans se manlikheid te herstel, om hulle weer ‘mighty men to God’ te maak.”

Mans moet weer hul regmatige plek in die huis inneem. “En dis nie bókant die vrou nie, maar langs haar. Praat maar met Jill, my vrou, my beste vriend . . . sy sal dádelik vir jou sê ek’s nie haar baas nie!

“As ’n man sy verantwoordelikhede abdikeer, word die vrou onseker en die kinders ongedissiplineerd. En dit kring uit na die hele land.

“Ek is ’n gesinsman, maar God het my dit op die hart gedruk om dié konferensie te reël j?is ter wille van vroue en kinders. Want hul mans en pa’s is stukkend.

“Hier, alleen, kon hulle sonder skaamkry voor die vroue práát oor hul woede, bitterheid, vrees, en die Heilige Gees kans gee om hulle gesond te maak.

“Dit het gewérk. Daar was soveel trane. Manne wat hul koppe op my skouer sit, wat dit nog nooit reggekry het om dinge net te laat gáán nie.

“Dit was nie ’n naweek van grappies of vermaak nie. Herlewing kom deur trane en gebrokenheid. Dit begin in die huis, waar gesinne weer verenig moet word. Dan kring dit uit, op en op, tot in die parlement!”

Hy lag saggies. “Nó? raak ek aan die brand!”

Maar die eintlike toets kom eers volgende week, volgende maand, as alles weer in die ou groewe terugval. As al die emosies van sy Mighty Men-saamtrek afgeblaas het soos ’n ou trekkerband . . .

Gaan dit hó??

“Ja, ek glo so, want dit was nie m?ne nie, dit was Gód se konferensie. Die bewyse daarvan sal in die pelgrims se lewe en getuienis wees. Ek het gepraat oor práktiese Christenskap, oor lewe-in-Jesus.

“Dis wat ek wéét: As ons na God terugdraai, sal Hy ons land genees. Dit het dié naweek begin.”

Hy bly ’n oomblik peinsend stil. Ver in die agtergrond hoor jy mense roep.

Dan sê hy, ter afsluiting: “As dit nié hou nie, dan’t ons gróót probleme in hierdie land. Die land het ’n tekort aan leierskap, aan mighty men.”

Lank nadat ons gegroet het, lank ná sy kort totsiens-gebed, verbeel ek hom nog daar op sy plaas. In sy blokkieshemp en boerehoed, met sy kenkuiltjie en glimlag.

Nederige dienskneg. Mighty man

No comments: